Willem Gertenbach, Wyk 3 DA-raadslid in Jeffreysbaai, se dienslewering-arsenaal is onlangs verdriedubbeld: raadslid, wykskomitee en kantoor – ’n eerste vir dié wyk.
Gertenbach, spog sedert begin Julie met sy eie wykskantoor – meer as nege jaar ná die Kouga-munisipaliteit die gebou vir die spesifieke doeleinde opgerig het.
Die gebou, met sy wit mure en rooi dak, het vir jare in onbruik gestaan.
Gerteenbach se arsenaal word met ’n wyk-assistent, André Joubert, en ’n wykskomitee afgerond.
Die doel?
Om eerstehands die klagtes en griewe van Wavecrest-inwoners aan te hoor.
“Na jare van onderhandeling is daar ’n voltydse wykassistent vir die wyk aangestel,” sê Gertenbach. “Joubert sal my met sekere administratiewe take bystaan om dienslewering tot voordeel van die inwoners te verbeter.
“Inwoners is welkom om hom op weeksdae tussen 08:00 en 16:00 by die kantoor te besoek.”
Volgens Gertenbach sluit pogings om dienslewering in die gebied te verbeter, die oprig van verskeie straatnaamborde in.
“Al die strate in Wyk 3 spog met splinternuwe naamborde,” sê hy. “Daar is altesaam 220 nuwe borde vanaf Poplarstraat tot by Noorsekloofweg aangebring. Dit volg na verskeie klagtes oor onleesbare straatnaamborde – beide deur inwoners en besoekers.
“Die projek is deur die wykontwikkelingsfonds moontlik gemaak.”
Verdere projekte sluit in die oprigting van ’n opelug gimnasium, die aanlê van randstene, die opgradering van speelparke en die bou van ’n gemeenskapsaal.
Vir inligting, skakel 042 200 2209 of 082 552 5402.
Stuur ’n epos na ward3@kouga.gov.za of andre.joubert@bwise.co.za
Kouga Express
Tags: wyk 3 kouga
Leave a Reply