Meer as een politieke ontleder het die laaste tyd kommentaar gelewer op die ANC se gebrekkige verkiesingstrategie. Daar is selfs sover gegaan as om te sê hul veldtog in hierdie verkiesing is hul swakste veldtog nóg.
Dit is dus geen wonder nie dat die ANC halsoorkop die laaste weke van hierdie veldtog President Cyril Ramaphosa se ‘baas’, die aarts-korrupte los kanon, Ace Magashule, inspan om desperaat te probeer veld wen waar dinge veral benard lyk – soos in die Wes-Kaap.
Ons sien die laaste twee weke hoe Magashule deur die land reis en een belaglike uitspraak na die ander maak en blatante leuens versprei ten einde veld te probeer wen vir die verswakte ANC.
‘n Benoude kat wat benoude spronge maak.
Nie net het Magashule ‘n ruk terug in ‘n skaametelose vertoon van politieke opportunisme ‘n beroep gedoen op inwoners in Phillippi in die Wes-Kaap om “nie hul stem op die wit man te mors nie”, hy het ook meer onlangs in Hermanus ‘n klomp wilde en onrealistiese beloftes aan kiesers gemaak en terselfdetyd blatante onwaarhede oor die DA se dienslewering in dié area versprei.
Magashule se uitspraak in Noordwes gister vat egter die koek. Volgens Magashule moet Suid-Afrikaners vir geen ander party as die ANC stem nie, want “die ANC het 25 jare se ondervinding. As jy ‘n ander party instem, sal dit hulle vyf jare neem om ondervinding te kry. Hulle sal nie weet waar om geld te kry nie”.
Nie net is hierdie uitspraak lagwekkend nie, dis ook uiters ironies wanneer gekyk word na waar die ANC klaarblyklik sy fondse vandaan kry, naamlik:
- VBS Mutual Bank
- Bosasa
- Deur munisipaliteit bankrot te steel
- Saxonworld en
- Die Vrede Suiwelprojek in die Vrystaat
En vandag wat ons 25 jare van demokrasie en vryheid in Suid-Afrika vier, is dit tragies om terug te kyk en te sien wat die “ANC se 25 jare se ondervinding” ons land in die sak gebring het.
Die ANC sal hulself ‘n guns doen om Magashule se mond te snoer vir die res van hierdie verkiesingsveldtog. Dis duidelik dat sy wilde, ondeurdagte uitsprake dié party meer kwaad doen as goed.
Tags: Election 2019
Leave a Reply